Stormers – Super14: Wie dink Willie Roos is hy?

Oor die algemeen dink ek slegte skeidsregters/lynregters besluite balanseer hulself uit oor ‘n wedstryd of 2 maar wat die afgelope 2 weke deur ‘n ene Willie Roos gedoen is verdien ‘n opinie.  Eers was dit hy wat eenoogig geblaas het in die wedstryd tussen die Stormers en die Bulle en op die uiteinde die Stormers van ‘n oorwinning beroof het.  Almal het Rassie Erasmus beskuldig van suur druiwe toe hy vir Roos beskuldig het.

Gister as lynregter in die wedstryd tussen die Sharks en die Stormers was dit weereens hy maar die keer as lynregter.  En ek praat nie net van die Schalk Burger geval nie.  Bolla Conradie is vlak voor hom deur ‘n Shark speler met die elmboog geloop en hy het absoluut niks daaromtrent gedoen nie maar hy sien oor die hele breedte van die veld iets wat Schalk nie eens gedoen het nie.

Dit was goed om te sien toe Schalk terugkeer van sy 10 minute dat die skeidsregter hom onverskoning vra maar dit maak nog nie die situasie reg nie.  Dit het 10 teen 1 die Stormers die wedstryd gekos.

Dit is hoog tyd dat net soos spelers uitgewys kan word na die wedstryd en voor ‘n verhoor moet verskyn, dieselfde met skeidsregters en lynregters moet gebeur.  Hoekom kan ‘n skeidregter en lynregter nie ook vir ‘n paar weke geskors word as hulle blatante foute maak nie en spanne van oorwinnings beroof?

Dit sal intressant wees om te sien wat met Schalk en Willie Roos hierdie week gaan gebeur!  Ek het so ‘n voorgevoel dat Schalk oor die vingers getik gaan word en in alle waarskynlikheid geskors gaan word en Willie Roos gaan skotvry daarvan afkom.

En voor iemand vra, ja ek is ‘n Stormers ondersteuner maar wat verkeerd is, is verkeerd.  Julle is welkom om jul opinies te gee.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*