Vriendskap moet aan gewerk word!

Raak ons so selfsugtig deesdae dat mense nie meer aan vriendskappe werk nie?  Raak ons so vasgevang in ons eie probleme en “issues” dat ons nie meer tyd het vir ander mense nie? Of is ons net mooiweers vriende dat ons slegs kontak hou as ons iets van iemand nodig het.

Ek weet ek is baie skuldig aan dit, maar ek wat nooit nuwejaars voornemens het nie, het besluit om vanjaar ‘n daadwerklike poging aan te wend om uit te reik en te probeer om vriendskappe aan die gang te hou.  Ek weet dit is nog vroeg in die jaar maar wat ‘n ontnugtering.

In elke geval tot dusver voel dit asof net ek iets omtrent dit doen.  As ek nie SMS, bel, chat of e-mail nie dan hoor mens niks van die mense nie. En hoekom as mens voorstel om te kuier dat die antwoord wat terugkom altyd is dat die persoon sal laat weet maar nooit laat weet nie.

Wel ek het die deur oopgemaak en kom ons kyk hoe lank daai deure oopbly.  Om eerlik te wees dink ek nie baie lank nie.  Dalk word ek verbaas deur een of 2 van die persone maar ons sal maar sien.

So wat dink julle?

Vriendskap — wat is ware vriendskap?

Ek is gou om te erken dat ek nie baie naby vriende het nie.  Ek het baie kenisse en werks kolegas,.  Die naby vriende wat daar is, is baie belangrik en kosbaar vir my.  Maak nie saak of dit nag of dag is nie, ek sal altyd daar wees vir hulle.

Wat ek egter oor die algelope tydjie ondervind het is hoe mens se idee van party vriendskappe eensydig is.  Ek het agtergekom dat party vriende se hulle is vriende maar in hul doen is dit nie altyd so nie.

Ek beskou ware vriendskap as iets wat van beide kante af kom.  Hoekom is dit vir party vriende so moeilik om net ‘n SMS, email of IM boodskap te stuur en te vra hoe dit gaan? Hoekom is party vriende so trots om te vra as hulle swaar kry?  Ek wil dinge wat in my lewe gebeur met vriende deel, hoekom is die teenoorgestelde nie altyd waar nie?  Beteken dit dat daai persoon jou nie as ‘n ware vriend sien nie maar net ‘n kennis?

Dis wanneer mens worstel met moeilike besluite, dat mens agterkom wie jou werklike vriende is.  Wat bereid is om na jou te luister.  Hulle mag nie noodwendig advies hê nie maar is daar om die vrae te vra wat mens nie aan dink nie.

Oor die volgende paar maande (veral Desember en Januarie) gaan baie mense alleen wees en dis dan wanneer mens agterkom wie is jou vriende. Vriende is daai mense wat die alleenheid oor hier tyd van mekaar wegvat.  Vriende is daai mense by wie mens kan gaan afpak as die vier mure van jou eie huis te veel druk.

Ek het hierdie aanhaling van die Strandloper gekry:

Ware vriendskap laat my dikwels dink aan die skaduwee wat vir die liggaam gevra het: “Waar kry jy `n vriend soos ek? Ek volg jou waar jy ook al gaan. In sonskyn en maanskyn verlaat ek jou nooit!” Die liggaam het geantwoord: “Dis waar, maar waar is jy wanneer die son of die maan nié skyn nie?” Ware vriende loop met mekaar saam selfs wanneer die nag op sy donkerste is, en floreer op wat `n mens daarin terugploeg. Hulle besoek mekaar in tye van voorspoed slegs op uitnodiging, maar in teespoed kom hulle ongenooid. Die vriendskap van groot geeste is nie beperk tot hierdie lewe nie. Dit sal in die hiernamaals volmaak word deur Hom wat Homself ons Vriend noem.

 

My wense en bede is vir die wat hier lees, mag julle vriende ware vriende wees.  Dis wat ek gaan doen, altyd daar wees as my vriende my nodig het.  Dis vir die vriende om te besluit wat hulle gaan doen,  Aan die ander kant is vriendskap, nie soos familie, ‘n keuse en mens kan kies met wie mens wil vriende wees.  As jy daardie keuse gemaak het dan moet mens dit ook so uitleef.

Technorati Tags: ,