Die jaar wat was en die jaar wat kom

Dit was een van daardie jare wat ek nou nie kan sê dat dit ‘n briljante jaar was nie en ek kan ook nie se dit was ‘n slegte jaar nie.  Dit was net nog ‘n jaar wat verby is.  So wat het die jaar gebeur:

Sosiaal en vriende:
Deur die jaar het ek paar nuwe vriende en vriendinne ontmoet.  Ek is nog “as single as you can get”. Ja en ek het ook een besondere vriendin ontmoet (wel ek het haar seker al amper 15 jaar terug ontmoet en ons padjies het vanjaar weer gekruis). Hopelik sal oor tyd hierdie vriendskap uitbrei tot iets meer.  Ek dink sy is ‘n besondere mens. Genoeg vir eers gesê en al jul nuuskieriges moet maar wag totdat ek weer eendag iets sê.

Familie:
Familie gewys is my kinders die belangrikste.  My seun het Matriek baie goed geslaag en is volgende jaar op pad Universiteit van Stellenbosch toe om Chemiese Ingeneurswese te gaan swot.  My dogter het Graad 10 klaar gemaak en volgende jaar moet sy skool aandurf sonder haar ouer broer in die omtrek.  Nou nie dat dit vir Meriska enigsins sal pla nie want sy kom goed reg so op haar eie.  Albei is gesond en is besig om die vakansie iewers langs die kus te geniet.

Werk:
Die jaar het begin met my wat nog my voete moes vind nadat ons IBM toe is aan die einde van 2006.  Gedurende Mei is ek Denemarke toe om verhoudings op te bou tussen IBM Suid Afrika en IBM Denemarke.  In Oktober het ek die geleentheid gekry om aan te beweeg na ‘n nuwe klient hier in Suid-Afrika wat weer nuwe uitdagings aan my stel.

Wat van 2008?
Ek is nie een wat enige “resolutions” maak nie want die meeste van die goed bly agter as ander prioritieite op mens se pad kom maar ek will konsentreer op die volgende:

  • Wil die beste vriend wees vir my vriende en vriendinne .. veral as hulle deur swaar tye gaan en iemand nodig het en dan wil ek daar wees.
  • Wil my kinders al die ondersteuning en liefde gee wat hulle toekom.
  • Wil alles doen om daai spesialle persoon gelukkig te maak,
  • In my werk alles doen tot die beste van my vermoe en ‘n sukses daarvan maak.

Een ding wat ek in 2007 geleer het is hoe baie ander mense daar is wat baie swaarder in die lewe het as ek.  In 2008 wil ek die lewe met albei hande aangryp en die beste maak van elke oomblik.  Ek glo en vertrou dat 2008 ‘n goeie jaar vir my gaan wees.

Ek wil almal wat tot hier gelees het ‘n baie goeie en gelukkige 2008 toewens.  Gryp elke geleentheid aan en aanvaar die liefde wat ander mense teenoor jul betoon en straal ook liefde teenoor ander uit.  Soos ek meer tyd vir my vriende en geliefdes gaan maak so hoop ek ook dat ieder van julle dieselfde gaan doen.

Technorati Tags: ,,,,

Vriendskap — wat is ware vriendskap?

Ek is gou om te erken dat ek nie baie naby vriende het nie.  Ek het baie kenisse en werks kolegas,.  Die naby vriende wat daar is, is baie belangrik en kosbaar vir my.  Maak nie saak of dit nag of dag is nie, ek sal altyd daar wees vir hulle.

Wat ek egter oor die algelope tydjie ondervind het is hoe mens se idee van party vriendskappe eensydig is.  Ek het agtergekom dat party vriende se hulle is vriende maar in hul doen is dit nie altyd so nie.

Ek beskou ware vriendskap as iets wat van beide kante af kom.  Hoekom is dit vir party vriende so moeilik om net ‘n SMS, email of IM boodskap te stuur en te vra hoe dit gaan? Hoekom is party vriende so trots om te vra as hulle swaar kry?  Ek wil dinge wat in my lewe gebeur met vriende deel, hoekom is die teenoorgestelde nie altyd waar nie?  Beteken dit dat daai persoon jou nie as ‘n ware vriend sien nie maar net ‘n kennis?

Dis wanneer mens worstel met moeilike besluite, dat mens agterkom wie jou werklike vriende is.  Wat bereid is om na jou te luister.  Hulle mag nie noodwendig advies hê nie maar is daar om die vrae te vra wat mens nie aan dink nie.

Oor die volgende paar maande (veral Desember en Januarie) gaan baie mense alleen wees en dis dan wanneer mens agterkom wie is jou vriende. Vriende is daai mense wat die alleenheid oor hier tyd van mekaar wegvat.  Vriende is daai mense by wie mens kan gaan afpak as die vier mure van jou eie huis te veel druk.

Ek het hierdie aanhaling van die Strandloper gekry:

Ware vriendskap laat my dikwels dink aan die skaduwee wat vir die liggaam gevra het: “Waar kry jy `n vriend soos ek? Ek volg jou waar jy ook al gaan. In sonskyn en maanskyn verlaat ek jou nooit!” Die liggaam het geantwoord: “Dis waar, maar waar is jy wanneer die son of die maan nié skyn nie?” Ware vriende loop met mekaar saam selfs wanneer die nag op sy donkerste is, en floreer op wat `n mens daarin terugploeg. Hulle besoek mekaar in tye van voorspoed slegs op uitnodiging, maar in teespoed kom hulle ongenooid. Die vriendskap van groot geeste is nie beperk tot hierdie lewe nie. Dit sal in die hiernamaals volmaak word deur Hom wat Homself ons Vriend noem.

 

My wense en bede is vir die wat hier lees, mag julle vriende ware vriende wees.  Dis wat ek gaan doen, altyd daar wees as my vriende my nodig het.  Dis vir die vriende om te besluit wat hulle gaan doen,  Aan die ander kant is vriendskap, nie soos familie, ‘n keuse en mens kan kies met wie mens wil vriende wees.  As jy daardie keuse gemaak het dan moet mens dit ook so uitleef.

Technorati Tags: ,

Ek is dankbaar ….

(To my American friends — Happy Thanksgiving – now further in Afrikaans)

Gister by die werk het ek ‘n e-pos gekry wat vertel van ‘n kolega wie se pa in ‘n rooftog dood is.  Die rooftog het by sy huis plaas gevind.  Ek ken die persoon wat dood is van geen kant en die kolega ken ek net van werk. 

Wat my wel tref is die invloed wat dit op my gehad het, en nogsteeds het en dit sluit aan by my vorige inskrywing.  Ek besef opnuut hoe my probleme absoluut niks is teenoor wat ander mense in die lewe mee worstel nie.  Ek kla omdat ek depressief op ‘n Sondagmiddag raak omdat ek vervelig is.  Intussen is daar ander mense wat treur omdat geliefdes en vriende van hulle weggeneem word.

Gisteraand het ek my voorgeneem dat ek die lewe verder gaan ingaan met ‘n nuwe uitkyk.  Ek gaan nie toelaat dat negatiewieteit, swartgalligheid en top oor klein dingetjies my lewe reageer nie.

Ek het opnuut besef hoe kosbaar en waardevol mens se tyd saam met vriende en vriendinne is. Die lewe is kort en as ons nie elke oomblik kosbaar maak nie dan verloor ons dit.  Tyd is iets wat ons nooit weer kan oor he nie.  En die dag as daai spesiale vriend of vriendin nie meer daar is nie dan is mens spyt oor al die dinge wat mens nie saam gedoen het nie.

Die somer is op hande.  Gryp elke oomblik aan om so veel as moontlik tyd te spandeer met die mense en dinge wat kosbaar is vir jou.  Ek gaan dit doen

Vandag is ek opnuut dankbaar vir:

  • 2 wonderlike kinders (Seun het vandag sy laaste matriek eksamen geskryf)
  • spesialle vriende/vriendinne met wie ek dinge kan deel (Dankie R – jy weet wie jy is)
  • goeie werk (kan nie veel se nie maar hou die pers volgende week dop)
  • plek om te bly
  • finansieel goed genoeg om redelik goed te lewe
  • my gesondheid
  • en so baie ander klein dingetjies.

Ek dink ook vandag aan ander wat:

  • nie kos het om te eet nie
  • iewers op straat moet slaap
  • met een of ander sieke worstel – (Alida ek dink aan jou)
  • nie vriende/vriendinne het nie

En om af te sluit is ek dankbaar om in so ‘n wonderlike plek soos Kaapstad te bly.

Click on image to see more at deviantART 

Technorati Tags: ,,