Raak ons so selfsugtig deesdae dat mense nie meer aan vriendskappe werk nie? Raak ons so vasgevang in ons eie probleme en “issues” dat ons nie meer tyd het vir ander mense nie? Of is ons net mooiweers vriende dat ons slegs kontak hou as ons iets van iemand nodig het.
Ek weet ek is baie skuldig aan dit, maar ek wat nooit nuwejaars voornemens het nie, het besluit om vanjaar ‘n daadwerklike poging aan te wend om uit te reik en te probeer om vriendskappe aan die gang te hou. Ek weet dit is nog vroeg in die jaar maar wat ‘n ontnugtering.
In elke geval tot dusver voel dit asof net ek iets omtrent dit doen. As ek nie SMS, bel, chat of e-mail nie dan hoor mens niks van die mense nie. En hoekom as mens voorstel om te kuier dat die antwoord wat terugkom altyd is dat die persoon sal laat weet maar nooit laat weet nie.
Wel ek het die deur oopgemaak en kom ons kyk hoe lank daai deure oopbly. Om eerlik te wees dink ek nie baie lank nie. Dalk word ek verbaas deur een of 2 van die persone maar ons sal maar sien.
So wat dink julle?









Oor die algemeen dink ek slegte skeidsregters/lynregters besluite balanseer hulself uit oor ‘n wedstryd of 2 maar wat die afgelope 2 weke deur ‘n ene Willie Roos gedoen is verdien ‘n opinie. Eers was dit hy wat eenoogig geblaas het in die wedstryd tussen die Stormers en die Bulle en op die uiteinde die Stormers van ‘n oorwinning beroof het. Almal het Rassie Erasmus beskuldig van suur druiwe toe hy vir Roos beskuldig het.
Gister as lynregter in die wedstryd tussen die Sharks en die Stormers was dit weereens hy maar die keer as lynregter. En ek praat nie net van die Schalk Burger geval nie. Bolla Conradie is vlak voor hom deur ‘n Shark speler met die elmboog geloop en hy het absoluut niks daaromtrent gedoen nie maar hy sien oor die hele breedte van die veld iets wat Schalk nie eens gedoen het nie.