Vriendskap moet aan gewerk word!

Raak ons so selfsugtig deesdae dat mense nie meer aan vriendskappe werk nie?  Raak ons so vasgevang in ons eie probleme en “issues” dat ons nie meer tyd het vir ander mense nie? Of is ons net mooiweers vriende dat ons slegs kontak hou as ons iets van iemand nodig het.

Ek weet ek is baie skuldig aan dit, maar ek wat nooit nuwejaars voornemens het nie, het besluit om vanjaar ‘n daadwerklike poging aan te wend om uit te reik en te probeer om vriendskappe aan die gang te hou.  Ek weet dit is nog vroeg in die jaar maar wat ‘n ontnugtering.

In elke geval tot dusver voel dit asof net ek iets omtrent dit doen.  As ek nie SMS, bel, chat of e-mail nie dan hoor mens niks van die mense nie. En hoekom as mens voorstel om te kuier dat die antwoord wat terugkom altyd is dat die persoon sal laat weet maar nooit laat weet nie.

Wel ek het die deur oopgemaak en kom ons kyk hoe lank daai deure oopbly.  Om eerlik te wees dink ek nie baie lank nie.  Dalk word ek verbaas deur een of 2 van die persone maar ons sal maar sien.

So wat dink julle?

Wat was jou eerste rekenaar?

Na aanleiding van ‘n inskrywing van Jo-Ann waar sy praat oor haar eerste rekenaar, het ek dit goed gedink om bietjie te skryf oor myne.  En hier gaan ek sekerlik my ouderdom weggee en die jonklomp van vandag gaan nie ‘n “clue” hê waaroor ek praat nie.

My eerste rekenaar het ek aangeskaf in, ek dink 1978.  Dit was nog die dae voor PC’s.  Dit was ‘n Apple II wat min of meer so gelyk het.

Daai skerm wat julle daar sien was groen gewees en dit het een of ander vorm van Basic gehad.  Die floppy drives was, ek dink, 128KB en ek het net een gehad.  Ek kan nog onthou dat ek ‘n huis finansies program geskryf het en ‘n hele 3 kopers gehad vir die ding.

My volgende rekenaar het ek in 1981 aangeskaf en die was ‘n IBM PC wat in Suid Afrika gemaak is met die naam Psion.  Dink hulle bestaan lank nie meer nie.  Hierdie rekenaar met 2 floppy drives and 640KB geheue het my seker naby die R8000 uit die sak gejaag wat baie geld in daai dae was — geen hardeskyf nie.

Vandag staan hier 3 rekenaars, waarvan een ‘n laptop is, in my huis.  En alles is genetwerk en met die druk van ‘n knopiie kan mens basies enigiets in die hande kry. 

Die beste ding wat verander het vanaf 1980, toe daai PC, DOS op gehad het en later Windows, is dat daar geen Microsoft/Windows op enig van my rekenaars is nie en dat alles wettig is en my nie ‘n sent gekos het nie.  Ja ek gebruik net Linux (Ubuntu), by die huis en by die werk.

Laat hoor van julle wat julle eerste rekenaar was en wat julle vandag gebruik.

Technorati Tags: , , ,

Naweek in Gauteng of liewers in Pretoria.

Wat besiel ‘n uit en uit Kapenaar om ‘n naweek in Pretoria te gaan deur bring.  Wel 2 dinge basies (OK, Louise, ek sal nie basies sê nie):

  1. Genooi deur ‘n goeie vriendin en hoe kan mens nou nee sê.
  2. Aangesien almal van heinde en verre die Kaap oorgeneem het vir die Argus, toe besluit ek maar om ‘n ander rigting in te slaan.

Laat Vrydagaand Johannesburg to gevlieg en die aand rustig verkeer.  Saterdagoggend fietsryers lughawe toe geneem wat die Argus kom ry het, en hulle het goed gedoen.  Neil het klaar gemaak in net oor die 3 uur en Andre om en by 4 uur.  Daarna by die Dros gaan iets drink en die laaste deel van die Stormers rugby wedstryd gekyk.  Dat ek nou heel pad Gauteng toe moes gaan om die Stormers te sien wen.

Die weer was redelik warm in Pretoria en het so bietjie afgekoel in die swembad.  Dis hoe die huis lyk waar ek gaan kuier het.
MH huis 1

Sondagoggend gespandeer in een van Pretoria se kwekerye wat seker die grootste kwekery is wat ek nog gesien het.  Mens kan die heel dag daar spandeer onder die groot bome en allens besigtig wat mens ookal mag begeer vir mens se tuin.  Hier is paar fotos van die plek.  Ja tot Koi visse ook.
PTA-kwekery 3

PTA-kwekery 1

PTA-kwekery 2

Sondagaand laat weer terug gevlieg huis toe en soos maar deesdae die inding is met vlieg was die vlug natuurlik vertraag.

Een van die beste dinge van so ‘n wegbreuk naweek is dat ek geen rekenaar naby gehad het nie en punt gemaak het om geen e-pos/twitter/facebook te volg nie.

Technorati Tags: ,,,

Hoekom is Roos nie voor tugverhoor nie?

Vanoggend toe ek werk toe ry sien ek die volgende teen die lamppale:

  • “Schalk Burger cited”
  • Schalk voor tugverhoor”

Dis presies wat ek gister gesê het en ek het net een vraag – Hoekom verskyn Willie Roos nie voor ‘n tugverhoor nie?  Is skeidsregters en lynregters verhewe bo die reëls van rugby?

Stormers – Super14: Wie dink Willie Roos is hy?

Oor die algemeen dink ek slegte skeidsregters/lynregters besluite balanseer hulself uit oor ‘n wedstryd of 2 maar wat die afgelope 2 weke deur ‘n ene Willie Roos gedoen is verdien ‘n opinie.  Eers was dit hy wat eenoogig geblaas het in die wedstryd tussen die Stormers en die Bulle en op die uiteinde die Stormers van ‘n oorwinning beroof het.  Almal het Rassie Erasmus beskuldig van suur druiwe toe hy vir Roos beskuldig het.

Gister as lynregter in die wedstryd tussen die Sharks en die Stormers was dit weereens hy maar die keer as lynregter.  En ek praat nie net van die Schalk Burger geval nie.  Bolla Conradie is vlak voor hom deur ‘n Shark speler met die elmboog geloop en hy het absoluut niks daaromtrent gedoen nie maar hy sien oor die hele breedte van die veld iets wat Schalk nie eens gedoen het nie.

Dit was goed om te sien toe Schalk terugkeer van sy 10 minute dat die skeidsregter hom onverskoning vra maar dit maak nog nie die situasie reg nie.  Dit het 10 teen 1 die Stormers die wedstryd gekos.

Dit is hoog tyd dat net soos spelers uitgewys kan word na die wedstryd en voor ‘n verhoor moet verskyn, dieselfde met skeidsregters en lynregters moet gebeur.  Hoekom kan ‘n skeidregter en lynregter nie ook vir ‘n paar weke geskors word as hulle blatante foute maak nie en spanne van oorwinnings beroof?

Dit sal intressant wees om te sien wat met Schalk en Willie Roos hierdie week gaan gebeur!  Ek het so ‘n voorgevoel dat Schalk oor die vingers getik gaan word en in alle waarskynlikheid geskors gaan word en Willie Roos gaan skotvry daarvan afkom.

En voor iemand vra, ja ek is ‘n Stormers ondersteuner maar wat verkeerd is, is verkeerd.  Julle is welkom om jul opinies te gee.